Bosveld Jagters-
en
Wildbewaringvereniging
Die vereniging met ‘n verskil
INLIGTINGSBROSJURE
Wat is Bosveld Jagters- en Wildbewaringvereniging?
(hierna genoem die BJV)
Soos die naam aandui het BJV twee hoof funksies. Eerstens, die jagter, met alles wat daarmee gepaard gaan. Dink aan etiese kodes, reëls, wette en ordereëlings ten einde jag as `n gekontroleerde sport te beoefen. Dit is ook een van BJV se doelstellings om altyd nog meer jaggeleenthede te bekom vir ons lede.
Daar bestaan reeds 24 verenigings soortgelyk aan BJV met `n gesamentlike totaal van ±15,000 lede. Die meeste van die verenigings word saamgesnoer onder die oorkoepelende sambreel van CHASA wat dan ook as spreekbuis dien vir die jagter in Suid-Afrika. So is daar insette gelewer op regeringsvlak oor sake rakende die jagter in die algemeen.
Daar kan met reg gesê word dat jagters wat nie lid is van `n jagtersvereniging nie, wel direk baat vind by die werk wat deur verenigings soos BJV via CHASA gedoen word – sonder CHASA sou die beperkinge meer omvangryk gewees het.
Die BJV vorm ook deel van die Jagters Forum wat kwartaalliks saam met die ander geakkrediteerde jagtersverenigings om die tafel sit met die Sentrale Vuurwapen Register om kwelpunte aan te spreek.
Tweedens moet elke jagter omsien na die natuur- en wildlewe om te verseker dat hy sy sport in die toekoms steeds sal kan beoefen. Die onoordeelkundige benutting van ons natuurbronne kan onberekenbare skade aan ons wildlewe berokken. So word daar op voortdurende basisdeur CHASA bystand verleen aan instansies wat studies in hierdie verband onderneem. Daar is al finansiële hulp verleen aan verskeie projekte soos die hervestiging van die Mofhartebees, die Bastergemsbok en Bosbokke in aangeplante bosbougebiede, die studie oor vrektes onder Koedoes en nog vele meer.
In kort kom dit daarop neer dat die bewaringfunksie miskien swaarder weeg by die ernstige jagters as die jagaspek omdat laasgenoemde nie kan bestaan sonder die eerste nie.
AKKREDITASIE.
Die BJV is ‘n ge-akkrediteerde Jagters Vereniging in terme van die “Wet op beheer van Vuurwapens” No: 60 van 2000. Ons akkreditasie nommer is 1300084. BJV is dus in staat om Toegewyde Jagters Lidmaatskap aan sy lede toe te ken.
Deur die BJV se affiliasie by CHASA is daar ook die geleentheid om Toegewyde Sportskiet Status te bekom derhalwe ook endossemente vir sportskietwapens te bekom (voorwaardes geld)
WERKSAAMHEDE
Die BJV poog heeltyds om die funksies soos hierbo gestel uit te leef. Ten einde dit te kan doen onderneem BJV dan die volgende:
OPLEIDING
Daar bestaan `n standaard toets wat vrywillig deur lede afgelê kan word om te bepaal of so `n persoon oor die voldoende kennis beskik aangaande sinvolle jag.
Lesings in dié verband word aan elke lid beskikbaar gestel en is voldoende om hom/haar toe te rus vir die eksamen. Die toets is nie daarop gemik om te bepaal wat `n persoon nie weet nie, maar wel om hom in staat te stel om te bepaal of hy oor voldoende kennis beskik vir sinvolle jag. Dit word in goeie gees en ontspanne atmosfeer afgelê en behoort niemand af te skrik nie.
Die neiging by wildboere en instansies is dat slegs bekwame lede van jagtersverenigings in die toekoms op dié sulkes se grond sal kan jag. Daarom wil BJV sy lede vroegtydig daarop voorberei.
JUNIOR OPLEIDING
Benewens die formele sy van opleiding word daar jaarliks ook opleidingskampe vir junior lede aangebied waartydens die basiese tegnieke van die jagsport geleer word. Dit omsluit byvoorbeeld identifisering van wildsoorte, spoorsny, wapenhantering, veiligheid, natuurbewaring, skootplasing, vleishantering en nog vele meer. Die kampe
is uiters gewild en groei die gehalte van talle juniors elke keer konstant. Soortgelyke kampe word ook vir volwasse lede aangebied. Die kursusse is uiteraard meer gevorderd en is meer op die praktiese toegespits.
SKIETDAE
Skietdae word op gereelde basis aangebied. Lede kan hulself ook op hierdie gebied bekwaam deur die skiet van die CHASA tabel. Daar word uit veld posisies geskiet sodat lede deurentyd die oefening kry. Skietbalkies word ook op hierdie tabel verwerf.
ALGEMEEN IMPALA
`n Nuusblad wat kwartaaliks uitgestuur word waarin lede van hul wedervaringe kan deel met almal. Dit bevat ook inligting oor sosiale byeenkomste, kompetiesies, jaggeleenthede en ander verwante wetenswaardighede.
TROFEEKOMPETISIE
Vir die lede wat trofee van enige spesie gejag het, word daar jaarliks `n trofeekompetisie gehou waar alle lede kan meeding. Verskillende afdelings bestaan vir die onderskeie wildspesies en daar is ook `n afdeling vir junior lede. Daar is trofeereëls wat nougeset nagekom moet word ten einde te verseker dat alle inskrywings wettig gejag is.
VOORDELE
In kort hou die BJV geen finansiële voordele in nie. Dit is `n vrywillige vereniging waar jy as lid `n bydrae kan lewer tot die jagsport en natuurbewaring. U word genooi om die aansoek vorm te voltooi en aktief betrokke te wees by dit wat vir ons en ons kinders belangrik en genotvol is.
GESINSLIDMAATSKAP
Gesinslidmaatskap bestaan uit `n primêre lid, sy gade en hul kinders wat 24 jaar en jonger is en wat finansieel afhanklik van die primêre lid is. Slegs die primêre lid ontvang korrespondensie.
JUNIORLIDMAATSKAP
Juniors ouer as 18 jaar wat voltyds studeer kan, met toestemming, nog die ledegeld van juniors betaal andersins word alle aansoekers ouer as 18 jaar as senior lede beskou.
Deur lid te wees van die BJV kan jy jouself dus toerus met die nodige kennis en die volgende kwalifikasies of toekennings verwerf onder die BJV en CHASA sambreel:
• Toegewyde Sportskut
• Toegewyde Jagter
• Gevorderde Jagter
• Meester Skut
• Instrukteur
• Baanoffisier
• SA Trofeemeter
• Spoorsny
• Boogjagter
• Handwapenjagter
• Voëljagter
• CHASA Bekwaamheid sertifikaat
• Jagoriënterings Opleiding (14-23)
• Junior Jagter vir Laerskole (10-34jr)
• Junior Jagter Hoërskole (14-18jr)
Al hierde voordele met 8 takke wat jou persoonlike diens kan gee met administratiewe punte by elke tak.
- Letaba – Tzaneen
- Soutpansberg – Louis Trichardt
- Pietersburg – Polokwane
- Potgietersus – Mokopane
- Waterberg – Nylstroom
- Kremetart – Musina
- Magalies – Pretoria
- Rustenburg – Rustenburg
- Hoedspruit – Hoedspruit
Ons wag vir jou en jou gesin om saam met ons, ons natuur te bewaar deur volhoubare benutting.