Die rol van jag in natuurbewaring Abel Botha
Daar is mense wat frons as hulle die woorde jagen natuurbewaringin een sinnetjie saam aantref, veral nog met die konnotasie dat díe twee begrippe enigsins met mekaar verband kan hou. Tog is jag vandag een van die belangrikste fasette of dan meganismes vir die effektiewe bewaring van die natuur.
Jare gelede, voordat die impak van menslike oorbevolking ‘n wesentlike effek op die natuur gehad het, was daar ‘n redelike balans in die natuur. Dit was weliswaar ‘n dinamiese balans, in die sin dat die weegskaal soms te veel na die een kant toe oorgehel het in die guns van byvoorbeeld die predatore, en dan weer in die guns van die grasvreters ensovoorts, totdat grootskaalse vrektes die balans weer drasties herstel het. Die balans in die voedselketting is gehandhaaf deurdat die grasvreters se getalle in toom gehou is deur die predatore, die plantmateriaal was nooit onherstelbaar beskadig nie. Wanneer droogtes erg begin raak het, het baie grasvreters gevrek, ander spesies het migreer na beter weivelde en altyddeur was die predatore daar om oorbevolking van spesies te keer. In hierdie voedselketting was die mens net nog ‘n predator wat sy rol gespeel het om hierdie fyn balans te help bewaar.
Namate die menslike bevolking vermeerder het, is hierdie balans mettertyd al meer versteur totdat daar in die laaste twee eeue reeds spesies begin verdwyn het en ander op die gevaarlys begin verskyn het. Daar is sommige mense wat beweer dat jag die oorsaak was van die verdwyning van hierdie spesies en van groot getalle wild wat voorheen ons land bevolk het. Ons as jagters ontken dat dit so is. Eerstens kyk ons na die definiese van jag soos ons as etiese jagters dit beskryf : Jag is die opsporing van ‘n dier in sy natuurlike omgewing, en die bekruip van hierdie dier totdat die dier op die vinnigste moontlike manier gedood kan word. Volgens hierdie definisie was die grootskaalse slagting van diere dus nie jag nie – eerder ‘n voor-die-voet uitwissing soos wat ‘n mens rysmiere in jou tuin sal doodmaak. Hierdie doodmaakproses was ook nie die oorsaak van die uitwissing nie, maar net die meganisme waardeur dit voltrek is. Wat wel die oorsaak van die verdwyning van hierdie spesies en diere was, was die grootskaalse vernietiging van habitat vir boerdery doeleindes, stede, paaie, spoorlyne, myne en damme waardeur die mens die natuur by homself laat aanpas het – in teenstelling met die dierlike spesies wat deur evolusie en verandering by die natuur aangepas het. Daar is baie mense wat jag veroordeel terwyl hulle in groot metropole, waar voorheen waarskynlik duisende stuks wild voorgekom het, hulle brood verdien.
Die groot probleem in vandag se tyd is dus dat die natuurlike habitat van ons wildspesies so verklein het dat meganismes wat voorheen die balans in die natuur help handhaaf het, net nie meer kan gebeur nie : migrasies kan nie meer onverhinderd plaasvind nie, predatore word nie geduld in stedelike en landbougebiede nie en daar is bloot net nie genoeg grond dat brande toegelaat kan word om sekere gebiede skoon te brand van indringerbosse nie. Die plantestand van die meeste oorblywende habitatte word verder deur oorbeweiding deur mak en wilde diere bedreig. In Suid Afrika was daar ook die verdere probleem dat ons voorouers diere en plante in hierdie land gevestig het wat totaal onaanpasbaar was met die natuur – diere en plante het in toenemende mate siektes gekry wat reggedokter moes word met chemikalië wat ander spesies weer byna vernietig het, soos byvoorbeeld die bosluisvoëltjies wat ‘n oral in die land (behalwe in die groter wildtuine) uitgewis is. So het die mens ook sy bondgenote uitgewis !
Gelukkig is al hoe meer boere daagliks besig om agter te kom dat die natuur hier in ons land alreeds diere en plante gelewer het wat deur die eeue uitstekend aangepas is vir ons plaaslike toestande. Luister wat sê Mnr. Dennis Ball van die plaas Shiawela naby Bandelierskop, wat baie jare lank ‘n top beesboer was en nou oorgeskakel het na wildboerdery : “ From the time I began to breed cattle, I was told : “Breed an adapted animal”. I constantly strove for this criteria and ruthlessly selected for this factor. One day, it was as if the Lord spoke to me saying : “Stop trying to adapt this animal! It was not bred for this conditions. …..Look at what was naturally here, and then you wil see “an adapted animal” The message was loud and clear : What was I fighting for? All that I have to do, was to allow what was naturally there to multiply.” Mnr. Ball het toe ook die belangrikste bestanddeel om die natuur te bewaar, ontdek : Bewaar die bodem, en al die ander dinge sal vanself volg.Hy het agtergekom datdie wild wat natuurlik voorgekom het, baie minder beskadiging aan die bodem veroorsaak as mak vee, en sy veldkwaliteit het sodanig verhoog in die eksperimentele gedeelte van sy plaas waar hy al die vee verwyder het, dat hy al sy vee op een dag verkoop het ! Hy het mettertyd agtergekom dat hy nie meer misoeste ervaar tydens droogtes nie, dat dieselfde reënval meer vermag het aan sy weiding en dat bosindringing aan die afneem is.
Navorsing in Kenya het getoon dat 2100 kg / km² beesvleis geproduseer kan word met tradisionele boerderymetodes en 8300 kg / km² beesvleis op ‘n baie goed bestuurde beesplaas. In dieselfde gebied kan 15 000 kg / km² wildsvleis produseer word !
Nou kan u wel vra wat bogenoemde met jag te doen het ? Dan moet ons eers vra : hoekom het 90% van die veestapel wat in 1910 agter die Soutpansberg voorgekom het, nou verdwyn om plek te maak vir wild ? Net om een rede : die wild het geld werd geword. Waar die wild voorheen as ‘n pes beskou was wat die vee se weiding afvreet en veesiektes veroorsaak en soms voor die voet afgemaai of verdryf is, word dieselfde wild nou as inkomste gesien. ‘n Klein gedeelte van hierdie wild kan lewendig verkoop word, die ander moet ge-oes of gejag word. Die meeste boere laat die wild jag deur binnelandse jagters. Nie net kry hy ‘n beter prys vir die bok nie, maar hy wen verder deur die daggelde wat hy vra sowel as gelde vir slagters, koelkamers en voertuie. Verder het hy oë en ore in die veld wat kan oplet na wilddiewe, strikke, drade wat stukkend is of selfs rondloperhonde van die gras af kan maak. Omdat elke ware jagter ook ‘n natuurliefhebber is, kry hy waardevolle inligting oor sy veld en sy diere. Die wild sorg ook vir broodnodige buitelandse valuta wat die land inkom in die vorm van oorsese jagters. In 1997 was die beraamde omset uit wildverkope R 500 miljoen, waarvan jag R 360 miljoen bygedra het. In 2001 het biltongjagters alleen R 450 miljoen in Suid Afrika spandeer. Die wildbedryf in Suid Afrika groei fenomenaal. Die meeste wildboere kry natuurlik ook buite die jagseisoen toeriste wat hulle inkomste verder aanvul (ekotoerisme het in 1997 ‘n beraamde R 40 miljoen omset gehad of een negende van die besteding deur jagters).
Ingeligte rolspelers in die Natuurbewaringsbedryf ondersteun dan ook die jag van hulle oortollige wild heelhartig. Eerder as om self uit te dun, word jagters al hoe meer in natuurreservate gebruik om oortollige wild af te haal. Dit is tog ‘n eenvoudige biologiese waarheid dat wild aanteel en dat hulle getalle gevolglik beperk moet word volgens die beskikbare voedselbronne, en oordeelkundige uitdunning geskied by wild ten beste deur jag. So word die habitat nie ooreis nie en kan verdere produksie volhoubaar plaasvind. Die fondse wat so ge-in word, is broodnodig vir die bestuur van die natuurreservate en ook vir die bevegting van wilddiewe, wat ‘n al hoe groter probleem in Afrika word (kyk hoe is renosters uitgedun). Vir enige regdenkende mens is dit tog meer logies om olifante te laat jag vir ‘n groot inkomste, as om ‘n hoop ivoor (wat duisende rande vir die bevegting van wilddiewe beskikbaar kon stel), in ‘n groot reklameveldtog voor miljoene televisiekykers te laat verbrand ! Olifante veral, word deur sogenaamde diereliefhebbers as emosionele propaganda gebruik in veldtogte om groot geld in te samel wat waarskynlik selde in natuurbewaring teruggeploeg word. ‘n Emosionele benadering tot natuurbewaring deur sommige media is dan ook dikwels die grootste probleem vir natuurbewaarders wat gesonde natuurbewaringspraktyke wil toepas. So word olifante dan verhef in bewaringstatus terwyl plante en ander diere wat moontlik op die gevaarlys mag wees as gevolg van oorbeweiding deur olifante, geen aandag in die media of van die oningeligte natuurliefhebbers ontvang nie. So het ‘n parkhoof in Oos Afrika geweier om olifante in “sy” gebied uit te dun, met die gevolg dat die olifante hulle habitat totaal vernietig het, soveel so dat elke enkele olifant in die trop (en baie ander diere) gevrek het, terwyl ‘n eens subtropiese habitat in ‘n woestyn verander het wat die gebied ook vir feitlik alle ander spesies onbenutbaar gemaak het.
Volwasse olifante het in die natuur geen vyande nie – die mens is die enigste predator wat by magte is om die olifant uit te dun. Oewerbos in Botswana en die Okavango word vernietig omdat olifantuitdunning vermy word daar dit negatiewe propaganda uitlok. Gelukkig het gesonde verstand uiteindelik geseëvier tydens die CITES beraad van 9 – 20 Junie 1997 deurdat daar positiewe besluite geneem is oor die handel in ivoor en renosterhoring deur die Suider Afrikaanse lande (Suid Afrika, Zimbabwe, Namibië en Botswana) en daar dus nou wettig op ‘n beperkte skaal en onder beheerde toestande olifante en renosters gejag mag word. Vir Botswana mag hierdie besluit dalk te laat kom, aangesien hulle olifantgetalle sodanig is dat daar net doodeenvoudig nie genoeg olifante gejag sal kan word om die habitat te red nie.
Opsommend kan dus gesê word dat jag díe belangrikste werktuig in die effektiewe bewaring van wild is. As gevolg van jagters wat betaal vir die jag van wild, en dit sodoende dus vir die wildboere en natuurbewaringsinstansies die moeite werd gemaak het om wild te bewaar en te laat vermeerder, is die wildgetalle in Suid Afrika vandag baie meer as honderd jaar gelede. Die jagter vervul weer sy tradisionele rol as predator. By die jagtersverenigings van Suid Afrika (daar is 12 jagtersverenigings deur die land wat by CHASA – die Konfederasie van Jagtersverenigings van Suid Afrika – geaffilieer is), poog ons om vir die wildboer en Natuurbewaringsorganisasies etiese jagters te gee om hulle wild te oes. Daarom is ons voortdurend besig met opleiding (veral vir die jeug) en ons is ook voortdurend besig met talle projekte waar ons die Natuurbewaringsorganisasies bystaan met sekere projekte. Natuurbewaring lê ons na aan die hart – dit is tog logies dat ons nie sal kan jag as daar nie wild is om te jag nie! Daarom bewaar ons om te kan jag, maar ook omdat jagters die ware natuurliefhebbers is. Mnr. M C Vermeulen het, vir sy M Com en onder die vleuels van die Navorsingsentrum : Wildbedryf by die Potchefstroomse Universiteit, ‘n opname onder jagters gemaak. Van die verskeie vrae wat hy in sy vraelys aan jagters gevra het, is die antwoord op een vraag kenmerkend van die jagter in Suid Afrika : Op die vraag: “Waarom jag jy ?” het verreweg die meeste van die jagters die volgende rede verskaf: “Om in die natuur te kan wees “.
(sien nuutste statistiek oor Jag in SA onder aan die blad in PDF formaat)