Jag
Eerstens, die jagter, met alles wat daarmee gepaard gaan, soos etiese kodes, reëls, wette en orde, om jag as ’n beheerde sport te beoefen. Een van die BOSVELD JAGTERS se doelwitte is ook om altyd meer jag geleenthede aan ons lede te bied.
Daar is ongeveer 24 verenigings soortgelyk aan die BOSVELD JAGTERS met ’n totaal van ±25,000 lede. Die meeste van hierdie verenigings is verenig onder die sambreel van die Konfederasie van Jagters verenigings van Suid-Afrika (CHASA), wat ook as mondstuk vir die jagter in Suid-Afrika dien. Sodoende word insette op regeringsvlak gelewer oor sake wat die jagter in die algemeen raak.
Die BOSVELD JAGTERS vorm ook deel van die Jagters forum, wat saam met ander geakkrediteerde jagters verenigings kwartaalliks met die Sentrale Vuurwapenregister vergader om bekommernisse aan te spreek.
Bewaring
Tweedens moet elke jagter sorg dra vir die wild om te verseker dat hy steeds sy sport in die toekoms kan beoefen. Die onbeheerste gebruik van ons natuurlike hulpbronne kan onberekenbare skade aan ons wild lewe veroorsaak. Deur CHASA word daar deurlopend hulp verleen aan instellings wat studies in hierdie verband onderneem. Finansiële bystand is reeds aan verskeie projekte gegee, soos die hervestiging van die Lichtenstein-hartebees, Bastergemsbok en Bosbok in aangeplante bosgebiede, die studie van sterftes onder Koedoes, en vele meer.
In kort beteken dit dat die bewaring staak dikwels swaarder weeg vir ernstige jagters as die jag taak, aangesien laasgenoemde nie sonder eersgenoemde kan bestaan nie. Bewaring deur jag behels die voorsiening van kos, in die vorm van wettige gejagte diere, aan plaaswerkers, hul gesinne en lede van hul gemeenskappe. Deur vleis te verskaf, word stropery ongelukkig nie heeltemal voorkom nie, maar dit verminder dit, wat minder lyding vir ons wild veroorsaak. Ouer diere, wat moontlik in swak kondisie verkeer, word ook deur jag bestuur om te voorkom dat hulle ly en ’n stadige dood sterf.
Hoë Prestasie Skuts
Die derde doelwit is vir die prestasie gedrewe sport skuts wat baie keer daarna strewe om hul skiet vermoë te optimaliseer en dan te presteer ter wille van erkenning. Hierdie skuts beskik gewoonlik oor toegewyde sportskiet status en vorm ‘n belangrike deel van BOSVELD JAGTERS se lede, alhoewel nie groot in getalle, maar groot in aktiwiteit en deelname. Hierdie deelname en prestasie is baie keer ook die vertoon venster na buite van BOSVELD JAGTERS. BOSVELD JAGTERS is sportskiet geakkrediteer onder CHASA se amptelike sportskiet status wat insluit ‘n hele lys van goed geordende skiet dissiplines waaraan lede kan deelneem vanaf BOSVELD JAGTERS tak vlak tot CHASA Interprovinsiale en CHASA Nasionale vlak. CHASA beskik oor ‘n nasionale ranglys waar hierdie skiet uitslae opgeneem kan word ter wille van kompetisie met ander CHASA geaffilieerde lid verenigings se skuts landswyd.
AKKREDITERING
Die BOSVELD JAGTERS is ’n geakkrediteerde Jagters vereniging ingevolge die “Vuurwapenbeheer wet” Nr. 60 van 2000. Ons akkreditasie nommer is 1300084. Die BOSVELD JAGTERS is dus in staat om toegewyde jagters status aan sy lede toe te ken.
Deur die BOSVELD JAGTERS se affiliasie met CHASA is daar ook die geleentheid om toegewyde sportskiet status te verkry en sodoende endossemente vir sportskiet vuurwapens te bekom.
AKTIWITEITE
Die BOSVELD JAGTERS streef voortdurend daarna om die bogenoemde funksies uit te leef. Om dit te kan doen, bied die BOSVELD JAGTERS die volgende aan:
OPLEIDING
’n Standaard toets wat vrywillig deur lede afgelê kan word om te bepaal of so ’n persoon oor voldoende kennis beskik rakende betekenisvolle jag.
Lesings hieroor is beskikbaar vir elke lid en is voldoende om hom/haar vir die eksamen toe te rus. Die toets is nie daarop gemik om te bepaal wat iemand nie weet nie, maar eerder of hy/sy oor voldoende kennis beskik vir betekenisvolle jag. Dit word in ’n goeie gees en ontspanne atmosfeer gehou en behoort niemand af te skrik nie.
Die neiging onder wildplaas-eienaars en instansies is dat slegs bekwame lede van jagters verenigings in die toekoms op hul eiendomme sal mag jag. Daarom wil die BOSVELD JAGTERS sy lede hiervoor vroegtydig voorberei.
JUNIOROPLEIDING
Benewens die formele kant van opleiding, word daar jaarliks opleidingskampe vir junior lede aangebied waar die basiese tegnieke van jag geleer word. Dit sluit in vuurwapen veiligheid en -hantering, wild identifikasie, spoor volging, natuurbewaring, skoot plasing, vleis hantering, en meer.
SKIETDAE
Praktiese skietdae word gereeld aangebied. Lede kan hulself ook in hierdie area kwalifiseer deur van die CHASA-tafel te skiet. Veld posisies word geskiet sodat lede altyd oefening kry. Skiet kwalifikasies word ook op hierdie skietdae behaal.
Die CHASA dissiplines behels die volgende as voorbeeld:
Senter slag Geweer
1. Baan skiet
2. Ghong skiet
3. Vlakte skiet
4. Bosveld skiet
5. Groot kaliber of “Big Bore”
Die papier teikens verteenwoordig gewoonlik jag georiënteerde skoot plasings, asook skiet posisies.
Haelgeweer
‘n Uitgebreide kleiduif dissipline saamgestel deur CHASA kleiduif spesialiste.
Rand slag
1. Baan skiet
2. Ghong skiet
Handwapen
1. Jag handwapen
2. Aksie handwapen (Ingesluit Tyro veiligheid)
Boogskiet
Boogskiet dissiplines spesifiek ontwerp vir Boogjag.
JAGTER SKUTS
Hierdie groep bestaan hoofsaaklik uit algemene BOSVELD JAGTERS-lede wat in skiet belangstel, maar nie noodwendig aan hoë-prestasie kompetisies deelneem nie. Daar is egter geen streng of formele skeiding tussen die twee groepe skuts nie, wat lede in staat stel om tussen hulle te beweeg volgens hul voorkeure en belangstellings.
