Uitvoerend/Hoofkantoor
GRONDWET VAN DIE BOSVELD JAGTERS- EN
WILDBEWARINGSVERENIGING
Hersiene Grondwet 2024
|
INHOUDSOPGAWE |
||
|
Nommer |
Beskrywing |
Bladsy |
|
1 |
Aanhef |
2 |
|
2 |
Naam |
2 |
|
3 |
Regspersoonlikheid |
2 |
|
4 |
Uitvoerende kantoor |
3 |
|
5 |
Doelstellings |
3 |
|
6 |
Lidmaatskap |
3 |
|
7 |
Ledegeld |
3 |
|
8 |
Samestelling van die bestuur van die vereniging |
4 |
|
9 |
Ampstermyn |
5 |
|
10 |
Kworum |
5 |
|
11 |
Nominasie vir bestuursposte |
6 |
|
12 |
Afwesigheid van vergadering |
6 |
|
13 |
Magte en pligte van besture |
6 |
|
14 |
Redakteur |
9 |
|
15 |
Die advieskomitee |
9 |
|
16 |
Magte en pligte van die advieskomitee |
9 |
|
17 |
Dissiplinêr |
10 |
|
18 |
Algemene uitvoerende jaarvergaderings: |
10 |
|
19 |
Spesiale algemene uitvoerende vergadering |
11 |
|
20 |
Algemene jaarvergaderings op takvlak |
11 |
|
21 |
Spesiale algemene tak vergadering: |
12 |
|
22 |
Algemeen |
12 |
|
23 |
Ere-toekennings aan lede: |
13 |
|
24 |
Trofeereëls |
14 |
- AANHEF
In nederigheid erken ons God Drie-enig as Skepper en Heerser oor die Heelal en stel ons onsself as lede van die Bosveld Jagters- en Wildbewarings- vereniging ondergeskik aan Sy Oppergesag.
- NAAM
Die naam van die vereniging is Bosveld Jagters- en Wildbewaringsvereniging, hierna gerieflikheidshalwe na verwys as “die vereniging”.
- REGSPERSOONLIKHEID
Die vereniging wat bestaan uit die uitvoerende bestuurslede asook afsonderlike takke (elk met hulle eie afsonderlike bestuurlede) word hiermee met regspersoonlikheid beklee, en sal, ten spyte van enige verandering van sy lede of sy uitvoerende bestuur of takbestuur as ‘n vereniging met ‘n eie regspersoonlikheid funksioneer.
Hierdie regspersoonlikheid word uitgebrei dat elke tak met afsonderlike regspersoonlikheid beklee word. Takke sal funksioneer onder leiding van die uitvoerende bestuur kragtens hierdie Grondwet en gepaardgaande beleidskrifte.
Die vereniging sal deur die betrokke bestuur van die vereniging (hetsy op uitvoerende vlak of op takvlak), in eienaam en onafhanklik van sy lede, bates kan besit of huur en te verhuur, laste en verpligtinge aangaan, ooreenkomste en kontrakte sluit in die naam van die vereniging en/of betrokke tak.
Die vereniging sal ook in eie naam en onafhanklik van sy lede en in tak verband (indien van toepassing) regsgedinge kan aangaan of teenstaan, kan dagvaar of gedagvaar word.
Elke tak sal afsonderlik aanspreeklik wees vir regsverpligtinge of ooreenkomste in eie naam van die tak aangegaan en verantwoordelik wees vir hulle eie kostes of uitgawes.
Alle besluite geneem en gemagtig kragtens hierdie Grondwet of beleidskrywes moet geneem word ter nastrewing van doelstellings van die vereniging. Waar ’n tak egter optree in opdrag van die uitvoerende bestuur of volgens enige beleidskrif of voorskrifte van die vereniging se uitvoerende bestuur en enige eis onstaan as gevolg daarvan, sal die vereniging se uitvoerende bestuur aanspreeklikheid opdoen binne die raamwerk van die vereniging.
Geen ampsdraers in die vereniging sal egter persoonlike aanspreeklikheid opdoen vir uitvoering van pligte binne die vereniging nie.
- UITVOERENDE KANTOOR
Die uitvoerende kantoor van die vereniging is te Polokwane of soos van tyd-tot-tyd vasgestel deur die algemene vergadering.
- DOELSTELLINGS
5.1 Om kennis op te doen van die wild- en natuurlewe.
5.2 Om met ander organisasies en instansies saam te werk wat dieselfde, en soortegelyke doelwitte nastreef as hierdie vereniging en in die algemeen alles te doen wat bevorderlik is vir die bewaring, beskerming, aanvulling en volhoubare benutting van die wild- en natuurlewe in die algemeen.
5.3 Om die jag van wild op selektiewe, oordeelkundige en etiese wyse in die algemeen te bevorder en niks te doen of toe te laat wat strydig is met enige landswet, of ordonansie met betrekking tot wildbewaring en natuurlewe in die algemeen nie.
5.4 Die vereniging is ‘n nie-winsgewende organisasie.
5.5 Die vereniging is ‘n nie-politieke organisasie en het geen politieke affiliasie nie.
5.6 Om ons kultuurerfenis van jag en jagwapens te behou en enige bedreiging daarteen ten sterkste teen te staan. Om hierdie kultuur van jag en jagwapens aktief uit te leef, te bevorder en uit te brei, veral onder die jeug.
Om deel te wees, volgens keuse, van enige verteenwoordigende verkose liggaam, organisasie of vereniging wat op ‘n koördineerde wyse die jagwapenkultuur beskerm en uitdra.
- LIDMAATSKAP
Die voorwaardes en vereistes vir die toekenning en behoud van lidmaatskap word gereguleer deur die beleidskrywe – “Lidmaatskap” soos goedgekeur en wat van tyd-tot-tyd gewysig kan word deur die die uitvoerende bestuur.
- LEDEGELD
7.1 Lidmaatskap is geldig vir een (1) jaar.
7.2 Ledegeld is betaalbaar binne drie (3) maande na uitreiking van faktuur.
7.3 ‘n Lid wat in gebreke bly om sy ledegelde te betaal, soos uiteengesit in 7.2 hierbo, sal lidmaatskap verbeur en sal sy naam uit die lederegister geskrap word en sal dienooreenkomstig geen stemreg hê op die algemene jaarvergadering nie.
7.4 Ledegeld word gereguleer deur die beleidskrywes. Ledegeld word goedgekeur en verander op besluit van die uitvoerende bestuur.
- SAMESTELLING VAN DIE BESTUUR VAN DIE VERENIGING
8.1 Die bestuur van die vereniging sal bestaan uit ‘n uitvoerende bestuur wat saamgestel word uit die volgende ampsdraers:
- President
- Voorsitter
- Onder-voorsitter (maksimum 2)
- Sekretaris / sekretaresse
- Tessourier
- Soveel addisionele bestuursposte soos van tyd-tot-tyd benodig, wat bepaal kan word in relevante beleidskrif, goedgekeur tydens ‘n uitvoerende bestuursbesluit.
- Die voorsitters en koördineerders van al die takke.
- Die hoof- uitvoerende beampte van die vereniging.
- Bogenoemde ampsdraers, uitgesonder ampstenaars in paragraaf 8.1.7 en 8.1.8 genoem, sal ten minstens twee (2) jaarliks verkies word deur alle teenwoordige lede op die algemene jaarvergadering.
8.3 Die uitvoerende dagbestuur sal bestaan uit ampsdraers soos genoem in paragraaf 8.1.1 tot 8.1.15
8.4 Die tak voorsitters en tak ondervoorsitters word twee (2) jaarliks verkies op takvlak.
8.5 Die hoof- uitvoerende beampte sal aangestel word deur die uitvoerende bestuur van die vereniging en sal sitting, maar geen stemreg hê op die uitvoerende bestuur van die vereniging nie. (Verwys paragraaf 13.1.3).8.6 Takbesture van die vereniging sal bestaan uit die volgende ampsdraers:
8.6.1 Voorsitter
8.6.2 Ondervoorsitters (‘n maksimum van twee (2) sal oor stemreg beskik op uitvoerende bestuur)
8.6.3 Sekretaris / sekretaresse
8.6.4 Tessourier
8.6.5 Soos voorgeskryf deur die beleidskrywe wat van tyd-tot-tyd deur die vereniging se uitvoerende bestuur gewysig kan word op ‘n uitvoerende bestuursvergadering.
8.7 Die dagbestuur van die tak sal bestaan uit ampsdraers soos genoem in paragraaf 8.6.1 tot 8.6.4.
8.8 ‘n Maksimum van vier (4) vise-presidente kan jaarliks deur die uitvoerende bestuur aangewys word indien nodig. Vise-presidente sal slegs in ‘n adviserende hoedanigheid optree. Hul termyn sal vir slegs een (1) jaar geldig wees. Daar sal elke jaar nuwe vise-presidente aangewys word.
- AMPSTERMYN
9.1 Lede van die uitvoerende bestuur word verkies vir ‘n tydperk van twee (2) jaar waarna lede weer herkies kan word.
9.2 Lede van takbesture word verkies vir ‘n tydperk van twee (2) jaar waarna lede weer herkies kan word.
9.4 Die bestuurslede, op uitvoerende bestuurs- of takvlak is geregtig om vakatures in hulle midde aan te vul deur middel van koöptasie uit stemgeregtigde lede van die vereniging of tak.
- KWORUM
10.1 ‘n Kworum op ‘n algemene jaarvergadering en ‘n spesiale algemene vergadering is minstens dertig (30) stemgeregtigde lede. Op takvlak moet daar minstens 5 % van opbetaalde lede teenwoordig wees om ’n kworum te vorm. Indien daar nie ‘n kworum teenwoordig is tydens die vergadering nie, sal die vergadering verdaag na ‘n alternatiewe datum, op voorwaarde dat ‘n kworum teenwoordig is.
10.2 Wat bestuursvergaderings betref sal ‘n kworum bestaan uit die helfte van die lede van ‘n bestuur plus een (1).
10.3 Stemreg op enige vergadering, by wyse van skriftelike volmag word toegelaat, maar ‘n skriftelike volmag kan slegs gegee word deur ‘n opbetaalde lid “as volmaggewer” aan een ander opbetaalde lid “as gevolmagtigde” en laasgenoemde mag slegs namens een volmaggewer in ‘n vergadering stem waar hy / sy teenwoordig is.
- NOMINASIE VIR BESTUURSPOSTE
Alle nominasies vir bestuursposte op die uitvoerende bestuur, moet skriftelik ingedien word by die betrokke sekretaris / sekretaresse minstens sewe (7) dae voor die datum van die betrokke bestuursverkiesing.
Op takvlak moet nominasies skriftelik ingedien word by die betrokke sekretaris/ sekretaresse voor die aanvang van die tak se algemene jaarvergadering.
Alle nominasies moet skriftelik geskied, onderteken deur die persoon voorgestel en twee ander lede as voorsteller en sekondant.
Hierdie reëls is nie van toepassing op dienende of gekoöpteerde lede op bestuursposte nie.
- AFWESIGHEID VAN VERGADERING
12.1 Indien ‘n voorsitter van ‘n bestuur van ‘n vergadering afwesig is, sal die ondervoorsitter in die amp ageer, en in laasgenoemde se afwesigheid sal die aanwesige lede ‘n waarnemende voorsitter uit hulle geledere aanwys.
12.2 Indien enige bestuurslid sonder ‘n goeie rede afwesig is van twee (2) agtereenvolgende vergaderings, kan sodanige lid summier uit sy amp ontslaan word en kan die vakature gevul word deur ‘n persoon wat op die volgende algemene jaarvergadering aangewys mag word, of wat intussen gekoöpteer word deur die betrokke bestuur.
12.3 Indien die voorsitter en ondervoorsitter van ‘n tak nie ‘n uitvoerende bestuursvergadering kan bywoon nie, moet ‘n lid van die betrokke tak se bestuur aangewys word om die vergadering by te woon as plaasvervanger. Die lid sal dan vir die betrokke vergadering as ‘n volle lid van die uitvoerende bestuur sal ageer.
- MAGTE EN PLIGTE VAN BESTURE
13.1 Die uitvoerende bestuur sal verantwoordelik wees vir:
- Die vereniging se beeldskakeling na buite en bevordering of nastrewing van die vereniging se doelstellings;
- Alle administrasie koördineer en orden met inbegrip van finansies en byhou van ‘n lederegister en lede-aktiwiteitsregister;
- Die aanstel van amptenare of werknemers teen vergoeding en op diensvoorwaardes as wat dit wenslik mag ag ter nastrewing van die doelstellings van die vereniging, en om hierdie amptenare of werknemers na goeddunke te skors of te onstlaan;
- Na goeddunke roerende en / of onroerende bates aan te koop, te huur of andersins te bekom ter nastrewing van die doelstellings van die vereniging, en om sodanige bates te verkoop, te verhuur of op enige ander wyse te vervreem, te belas of van die hand te sit.
Alle eiendomstransaksies, hetsy op uitvoerende bestuursvlak of op takvlak, sal gedoen word in die naam van die Bosveld Jagters- en Wildbewaringsvereniging en sal aan die einde daarvan verwys na of uitvoerende bestuur of naam van betrokke tak na gelang van die geval;
- Alle transaksies soos omskryf in 13.1.4 hierbo op alle vlakke sal onderhewig wees aan die vooraf goedkeuring van die betrokke uitvoerende bestuur of betrokke takbestuur (na gelang van die geval) en kan nie deur die dagbestuur goedgekeur word nie. Sodanige goedkeuring geskied by wyse van meerderheidstem van die betrokke bestuur waar ’n kworum teenwoordig is.
Die betrokke voorsitter van die relevante bestuur sal gemagtig wees om kragtens resolusie wat volg op goedkeuring by wyse van stemming, alle oordragdokumente of regsdokumentasie te onderteken, waartoe hy of sy kragtens die resolusie gemagtig word;
- Die toelaat van die stig van takke van die vereniging ter nastrewing van die doelstellinge en binne die raamwerk van die Grondwet van die vereniging;
- Die reël van intertak-aktiwiteite;
- Die reël van algemene jaarvergaderiing en jaareindfunksie van die vereniging;
- Die beheer, bestuur, onderhoud en instandhouding van alle bates van die vereniging, wat nie op takvlak as sulks hanteer word nie;
- Sal so dikwels vergadering hou as wat nodig is, maar nie minder as een keer elke vier maande nie;
- Die uitvoerende bestuur sal die reg hê om reëls of voorskrifte uit te vaardig in die vorm van beleidskrywes wat nodig is om enige van die werksaamhede van die vereniging te orden, met inagneming van die takke se belange en ter nastrewing van die vereniging se doelstellings. Beleidskrywes sal nie in teenstryd wees met die Grondwet nie;
- Die uitvoerende bestuur sal ‘n bankrekening open by sodanige
bankinstansie as waarop die meerderheid van die bestuur mag besluit en sal beleggings maak tot voordeel van die vereniging. Alle betalings van die vereniging sal onderteken word deur minstens twee (2) persone soos aangewys mag word deur die uitvoerende bestuur; - Die uitvoerende bestuur sal jaarliks besluit oor die verdeling van ledegeld tussen takke en die vereniging se hoofkantoor;
- Die verhoor van appèlle ten opsigte van enige dissiplinêre verhoor in terme van die dissiplinêre kode/s soos uitgevaardig van tyd-tot-tyd;
- Aanbevelings doen aangaande toekenning of opskorting van
erelidmaatskap; en - Notule sal gehou word van alle vergaderings.
13.2 Die takbesture sal verantwoordelik wees vir:
- Die bestuur van die betrokke tak van die vereniging binne die raamwerk van die Grondwet en doelstellings van die vereniging. Verder sal die doel wees om lede beter te bedien en daardeur die ledetal uit te brei deur aktiewe ledewerwing;
- Elke takbestuur sal ‘n bankrekening open by sodanige bank instansie as waarop die meerderheid van die bestuur mag besluit. Al die betalings sal mede-onderteken word deur twee (2) lede van die takbestuur soos van tyd-tot-tyd deur die takbestuur aangewys word;
- Elke takbestuur is verplig om voor of op 30 Julie van elke jaar finansiële state van die tak in te dien by die tessourier van die uitvoerende bestuur;
- Die finansiële state moet deur ‘n onafhanklike rekenmeester opgestel word;
- Enige bates deur die tak aangekoop of bates verkry uit eie fondse, of donasies aan die tak, of toekennings vanaf die uitvoerende bestuur, resorteer onder die beheer van sodanige tak solank die tak voortbestaan as ‘n tak van die vereniging;
- Die beheer, bestuur, onderhoud en instandhouding van alle eiendom van die vereniging wat onder sodanige tak resorteer;
- By ontbinding van ‘n tak, of indien ‘n tak ophou om te funksioneer, val alle gelde, bates en eiendom wat onder beheer van die tak was, onder die beheer van die uitvoerende bestuur van die vereniging, tensy ’n bemaking of donasie spesifiek anders skriftelik bepaal;
- Notule sal gehou word van alle tak vergaderings en afskrifte van die goedgekeurede notules moet op die voorgestelde wyse soos uiteengesit in die beleidskrywe gestoor word; en
- Die finansiële aangeleenthede van elke tak word gereguleer deur die beleidskrywe, “Finansiële bestuur van takke” soos goedgekeur en / of gewysig deur die uitvoerende bestuur van tyd-tot-tyd.
- REDAKTEUR
Die redakteur sal met sitting, maar sonder stemreg, op ‘n uitvoerende bestuursvergadering deur die uitvoerende bestuur aangewys word. Die Impala tydskrif en nuusbriewe sal die verantwoordelikheid wees van die redakteur, bygestaan deur sodanige gekoöpteerde lede soos van toepassing.
- DIE ADVIESKOMITEE
Samestelling:
Die advieskomitee sal bestaan uit:
- Die president
- Die voorsitter van die uitvoerende bestuur
- Al die vise-presidente
- Al die ere-lede
- MAGTE EN PLIGTE VAN DIE ADVIESKOMITEE
16.1 Die advieskomitee sal alleenlik adviserende pligte en geen uitvoerende magte hê nie.
16.2 Die advieskomitee sal nie gereeld vergader nie maar sal op versoek van die president of die voorsitter van die uitvoerende bestuur vergader om enige aangeleentheid te oorweeg en advies ten opsigte van sodanige aangeleentheid aan die uitvoerende bestuur te gee.
16.3 Notule sal gehou word van alle vergaderings.
- DISSIPLINêR
- Die dissiplinêre kode vorm ‘n addendum tot hierdie Grondwet en word hierby aangeheg. (Uitstaande)
- Enige dissiplinêre optrede teen ‘n lid sal onderhewig wees aan die dissiplinêre kode en sal sodanige dissiplinêre optrede en / of stappe gedoen word, soos voorgeskryf in die dissiplinêre kode.
- ‘n Lid wat deur ‘n bevoegde hof skuldig bevind word aan ‘n wesenlike kriminele oortreding van enige owerheid, provinsie of land en welke oortreding in stryd is met die vereniging se doelstellings, is nie verkiesbaar vir enige amp van ‘n takbestuur en / of uitvoerende bestuur nie en mag dan ook nie op sodanige besture dien nie.
- ALGEMENE UITVOERENDE JAARVERGADERINGS
- Die algemene jaarvergadering van die vereniging sal gehou word te Polokwane op ‘n datum soos deur die uitvoerende bestuur besluit, maar nie later as die einde van November van elke jaar nie.
- Lede sal skriftelik of elektronies in kennis gestel word, minstens sewe (7) dae voor die datum waarop die algemene jaarvergadering gehou sal word.
- Alle lede wie se ledegelde op datum betaal is, uitgesluit junior lede, aanlyn lede en afiliaat lede, sal stemgeregtig wees op die jaarveradering en sal slegs een stem hê (tensy volmag gehou word vir ‘n addisionele stem namens ‘n ander opbetaalde lid) oor elke afsonderlike aangeleentheid wat tot stemming gebring word.
- Op die algemene jaarvergadering sal:
- Die notule van die vorige algemene jaarvergadering gelees word;
- Die verslae van die voorsitter van die uitvoerende bestuur en die president behandel word;
- Die finansiële state van die vereniging behandel en bespreek word;
- Voorstelle oorweeg word aangaande die verandering van die Grondwet;
- Goedkeuring of afkeuring van die voorgestelde jaarlikse ledegelde;
- Sake van algemene belang bespreek word;
- Die verkiesing van die aangewese ampsdraers van die uitvoerende bestuur geskied;
- Die aanstelling van ouditeure of onafhanklike rekenmeesters van die vereniging en aanbeveel of ‘n volledige oudit of slegs ‘n onafhanklike finansiële oorsig jaarliks gedoen moet word van die vereniging se finansiële sake; en
- Alle besluite sal by wyse van ‘n gewone meerderheidsbesluit beslis word, uitgesonder voorstelle van wysiging van die Grondwet soos bepaal word in 20.3.
- SPESIALE ALGEMENE UITVOERENDE VERGADERING
- Die uitvoerende bestuur het die reg en is daartoe verplig, indien dertig stemgeregtigde lede hulle skriftelik sodanig versoek het, om met minstens sewe (7) dae skriftelike of elektroniese kennisgewing ‘n spesiale algemene vergadering te belê.
- Slegs sake wat vooraf skriftelik versoek en op die agenda van die vergadering geplaas is sal hanteer word.
- ‘n Agenda wat die sake vir bespreking op die spesiale algemene vergadering bevat moet die kennisgewing van die vergadering vergesel.
- ALGEMENE JAARVERGADERINGS OP TAKVLAK
- Die algemene jaarvergadering van die vereniging se takke sal gehou word by die betrokke tak op so ‘n datum as wat die takbestuur op mag besluit maar nie later as die einde van Junie van elke jaar nie.
- Lede sal skriftelik of elektronies in kennis gestel word, minstens sewe (7) dae voor die datum waarop die jaarvergadering gehou sal word.
- Alle lede wie se ledegelde op datum betaal is, uitgesluit junior lede, sal stemgeregtig wees op die jaarveradering en sal slegs een stem hê (tensy ‘n volmag gehou word vir addisionele stem namens ‘n ander opbetaalde lid) oor elke afsonderlike aangeleentheid wat tot stemming gebring word.
20.4 Op die algemene jaarvergadering sal:
- Die notule van die vorige algemene jaarvergadering gelees word;
- Die verslae van die voorsitter van die uitvoerende bestuur en die president behandel word;
- Die finansiële state van die vereniging behandel en bespreek word;
- Voorstelle aangaande verandering van die Grondwet, oorweeg word;
- Sake van algemene belang bespreek word;
- Die verkiesing van die aangewese ampsdraers van die takbestuur geskied;
- Aanwys van rekenkundige beampte van die tak; en
- Alle besluite sal by wyse van gewone meerderheidsbesluit beslis word.
- SPESIALE ALGEMENE TAK VERGADERING
- Die takbestuur het die reg en is daartoe verplig, indien 5% van opbetaalde tak stemgeregtigde lede hulle skriftelik sodanig versoek het, om met minstens sewe (7) dae skriftelike of elektroniese kennisgewing, ‘n spesiale algemene vergadering te belê.
- Slegs sake wat vooraf skriftelik versoek en op die agenda van die vergadering geplaas is sal hanteer word.
- ‘n Agenda bevatende die sake vir bespreking op die spesiale algemene vergadering, moet die kennisgewing van die vergadering vergesel.
- ALGEMEEN
- Op enige vergadering van die vereniging sal stemming, of by wyse van die opsteek van hande of by wyse van geslote stembriewe geskied. Die vergadering sal by magte wees om die wyse van stemming te bepaal.
- Op alle vergaderings van die vereniging sal die voorsitter ‘n gewone stem sowel as ‘n beslissende stem hê.
- ’n Voorsitter mag nie ’n voorstel indien nie.
- Voorstelle vir wysiging van die Grondwet sal alleen toegelaat word mits kennisgewing van sodanige wysiging aan al die lede van die vereniging gegee is minstens een-en-twintig (21) dae voor die datum van sodanige vergadering. Die kennisgewing kan skriftelik of elektronies en met plasing op die webblad geskied. Wysiging van die Grondwet sal alleen kan geskied mits minstens twee derdes van die aanwesige lede, daartoe instem.
- Indien daar besluit word op die ontbinding van die vereniging, sal op ‘n algemene uitvoerende vergadering deur minstens een derde van die ledetal van die vereniging besluit word oor hoe daar beskik moet word oor die bates van die vereniging. Indien minder as een derde van die ledetal op so ‘n vergadering teenwoordig is sal die vergadering verdaag word vir ‘n tydperk van een-en-twintig (21) dae op welke datum die vergadering hervat en alle sake afgehandel word ongeag die aantal lede wat op so ‘n vergadering teenwoordig is.
- ‘n Besluit tot die ontbinding van die vereniging kan slegs op ‘n spesiale algemene uitvoerende vergadering, waar minstens een derde van die opbetaalde lede teenwoordig is, geneem word.
- Alle ander aangeleenthede wat nie gespesifiseer is in hierdie Grondwet nie, is streng onderhewing aan die betrokke beleidskrywes, soos goedgekeur deur die vereniging se uitvoerende bestuur en wat op ‘n uitvoerende bestuursvergadering gewysing kan word.
- ERE-TOEKENNINGS AAN LEDE
‘n Ere-toekenning wat bekend sal staan as die “Honorus Signum” toekenning kan toegeken word deur die uitvoerende bestuur aan ‘n lid wie minstens:
- Vir ‘n ononderbroke tydperk van vyf (5) jaar ‘n volopbetaalde lid van die vereniging was en uitsonderlike, voortreflike en onbaatsugtige diens aan die vereniging, of die jagsport in die algemeen gelewer het; of
- Vir ‘n tydperk van tien (10) jaar op ‘n bestuur en / of die advieskomitee gedien het.
- Die uitvoerende- en tak dagbesture asook hoof- portfeuljedraers se jare diens geld onder 23.2.
- TROFEEREëLS
Trofeekompetisiereëls kan slegs gewysig word op ‘n algemene uitvoerende jaarvergadering nadat sewe (7) dae skriftelike of elektroniese kennisgewing gegee is van voorgestelde wysigings.
ADDENDUM A – DISSIPLINêRE KODE
